Blog



Ek is snoep oor my taal

So elke nou en dan verras 'n woord of woorde my. Dis nie noodwendig woorde wat ek nie ken nie, dis eerder 'n skielike herwaardering daarvan. Iets wat weer vir my onderlyn wat die waarde daarvan is om Afrikaans te wees. Afrikaans is nie noodwendig beter of slegter as 'n ander taal nie. Die werklike waarde lê in die identiteit. Ons is nie masjiene nie en behoort diep onderliggend aan 'n identiteit, 'n kultuur, wat vir ons waardes gee in die lewe, wat maak dat ons iemand is wat die moeite werd is om te wees. Iemand vir wie jy jou hoed kan lig en jou kop in 'n groet kan knik.

Die eerste woord wat my 'n rukkie gelede verras het was bruilof. As ek die woord hoor dan tower dit sommer onmiddellik die feesvierings op van 'n splinter nuwe begin, 'n begin wat van ouds deur die Griekse Godin Demeter geseën is om vrugbaar te wees. Vrugbaar in al sy aspekte. Die geluk van twee mense wat vorentoe saam hulle lewe gaan deel. Wat 'n onmisbare gedeelte van die toekoms word. Hierdie samevoeging in lief en leed, van ondersteuning en onderskraging, van deel in elke oomblik van die lewe. 'n Bruilof gaan terug na die prins op sy wit perd, wat sy geliefde afswiep van haar voete af, en die ondergaanende son volg. Na geluk en welvaard.

Dan is daar snoep. Terwyl ek die definisie en voorbeelde vir snoep in die HAT lees, is dit sommer asof ek 'n bietjie kuier op 'n ander planeet. 'n Snoep hanslam. Die hond is nie honger nie, net snoep (dis beslis my honde). 'n Beer is so snoep agter heuning soos 'n kinder agter lekkers. Iemand snoep behandel. Alles vir homself, die snoep! 'n Koekie snoep elke keer as jy by die tafel verby loop. Of wie het van my biltong gesnoep? Dis genoeg om 'n frons op enige iemand se voorkop te veroorsaak!



Westdene, Johannesburg gerhardus@envoyant.life 082 457 5554
© Copyright Envoyant 2021